|
|
WELKOM
BY DIE RAND- FOREX BLADSY
|
| Tuisblad |
DIE RUILVOET, KOMMODITEITSPRYSE, WISSELKOERS EN BETALINGSBALANSPROBLEME Die skerp verstewiging van die rand het tot gevolg dat ‘n groter gedeelte van die ekstra rande wat in die ekonomie gespandeer word, gespandeer word op invoere. Die grafiek hieronder wys die verwantskap tussen die reële rand en die gedeelte van die jaarlikse toename in totale vraag (wat bestaan uit binnelandse vraag en uitvoervraag) wat op invoere gespandeer word. Waar die gedeelte van die toename in jaarlikse vraag in die derde kwartaal van 2002 (m.a.w. die toename in totale vraag van die derde kwartaal van 2001 tot die derde kwartaal 2002) wat deur invoere verskaf is nog onder 10% was het dit in die derde kwartaal van 2003 tot effens bo 70% gestyg. ‘n Groot gedeelte van die ekstra spandering in die ekonomie word dus uitgelek na die buiteland. Die skerp verstewiging van die rand wat die relatiewe prys van invoergoedere verlaag het, het grootliks bygedra tot die lekkasie van toenames in vraag na buiteland. Ten spyte van hierdie lekkasie van toenames in vraag na die buiteland, het die lopende rekening van die betalingsbalans nie aansienlik verswak nie. Hierdie paradoks kan verklaar word deur te kyk na wat met die ruilvoet oor hierdie periode gebeur het. Die ruilvoet is bloot net verhouding van prysindeks van uitvoere tot ‘n prysindeks van invoere. Wanneer ‘n land se ruilvoet verbeter (dit gebeur wanneer uitvoerpryse vinniger styg as invoerpryse) stel dit ook die land in staat om meer goedere in te voer sonder om daarvoor te betaal deur meer goedere te produseer of om ‘n gedeelte van sy bates te verkoop aan die buiteland (dit gebeur wanneer daar kapitaalinvloeie is). Oor die afgelope paar jaar het Suid-Afrika se ruilvoet aansienlik gestyg. Omdat ‘n verbetering in die ruilvoet die aanbod van valuta verhoog relatief tot die vraag lei dit tot ‘n verstewiging in ‘n land se wisselkoers. In die onderstaande grafiek word die verwantskap getoon tussen die reële effektiewe wisselkoers van die rand en die ruilvoet. Die ruilvoet lei die reële effektiewe wisselkoers met 4 kwartale en as ‘n vuisreël lei ‘n 1% verbetering in die ruilvoet tot ‘n 3% verbetering in die reële effektiewe wisselkoers.
Die verbetering in die ruilvoet het hoofsaaklik gekom van ‘n verbetering in die pryse van edelmetale. Die grafiek hieronder wys die verloop van die Commodity Research Bureau (CRB) se edelmetale prysindeks in $.
Die CRB indeks is gelykgeweeg uit goud, platinum en silwer en skets ‘n goeie prentjie van die groot stimulus wat gekom het van die styging in die pryse van edelmetale. As ‘n vuisreël lei elke 6% styging in kommoditeitspryse tot ‘n 1% verbetering in die ruilvoet. ‘n Groot gedeelte van die rand se verstewiging van sy laagtepunt in Desember 2001 is afkomstig van die styging van kommoditeitspryse. Die ruilvoet kan egter ook verswak indien die prys van kommoditeite wat ingevoer word skerp styg. Een so kommoditeit is olie. Die vuisreël is hier dat ‘n 22% styging in die prys van olie lei tot ‘n 1% verswakking in die ruilvoet. In die onderstaande grafiek word die prys van ‘n vaatjie Brent olie gegee vanaf die eerste kwartaal van 1990 tot die derde kwartaal van 2003.
Die verstewiging in die prys van olie kon egter nie die positiewe gevolge van die styging in kommoditeitspryse teenwerk nie en het die ruilvoet oor die afgelope paar jaar verbeter. In die onderstaande grafiek word die werklike verloop van die lopende rekening asook die verloop getoon indien die ruilvoet sou gebly het by die vlak in die vierde kwartaal van 2001.
Dit is baie duidelik dat die verbetering in die ruilvoet die lopende rekening van die betalingsbalans beskerm het. Sou die ruilvoet gebly het by die vlak wat dit in die vierde kwartaal van 2001 was dan sou die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans meer as 3% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) gewees het. Die meevaller afkomstig van die verbetering in die ruilvoet is gelykstaande aan 2% van die BBP. Die risiko is dat die vraagstimulus wat in 2003 gekom het deur ‘n skerp appresiasie van die rand, skerp dalings in rentekoerse en ‘n uitbreidende fiskale beleid die betalingsbalans kwesbaar laat. Dalings in kommoditeitspryse wat noodwendig lei tot ‘n verswakking in die ruilvoet kan die kwesbaarheid van die lopende rekening van die betalingsbalans sigbaar maak en kan die rand onder afwaartse druk verkeer. Die styging in kommoditeitspryse en die die verbetering in die ruilvoet is ‘n meevaller en daarom is dit riskant om die ekonomie te stimuleer. Die beleidsrigtings lyk baie na die in vroeër jare en uit ondervinding weet ons dat die stimulering van die ekonomie ten tye van ‘n meevaller tot groot afwaartse bewegings in die wisselkoers gelei het wanneer die meevaller ongedaan gemaak word. Daar is dus die gevaar dat die rand iewers in 2004 weer ‘n skerp afwaartse beweging kan ondergaan wanneer die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans te groot word. Dit kan gebeur wanneer kommoditeitspryse daal en/of wanneer invoere te skerp styg. Laaste opgedateer 29 Desember 2003 |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Omtrent | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Weeklikse Kommentaar | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Konsensus Vooruitskattings | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Koopkragpariteit | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Studies | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Rekenaar | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|