|
|
WELKOM
BY DIE RAND- FOREX BLADSY
|
| Tuisblad |
Klik hier vir toegang tot al die begrotingsdokumente KOMMENTAAR OOR DIE 2004 BEGROTING A: INLEIDING Die doel van die kommentaar is om die ekonomiese impak van die begroting te bepaal wat insluit die moontlike impak wat dit op die wisselkoers kan hê. Die vraag wat hier dus gevra word is of die begroting stimulerend is of beperkend. As die begroting stimulerend is verhoog dit die groeikoers en as dit beperkend is verminder dit die groeikoers oor die korttermyn. Die begroting word ook meer en meer gebruik as ‘n instrument van inkome-herverdeling en dit hou ook gevolge in vir die ekonomie. Die bespreking begin deur te kyk na die ekonomiese aannames onderliggend tot die begroting en kyk dan na die begroting self. Die moontlike impak van die herverdelingsaspek van die begroting asook die impak op die wisselkoers en monetêre beleid word ook in oorskou geneem waarna enkele slotopmerkings volg. B: EKONOMIESE AANNAMES EN BEGROTINGSTEKORTE Die ekonomiese annames onderliggend tot die begroting word in die onderstaande tabel gegee.
Oor die afgelope paar begrotings het ‘n neiging ontstaan om ‘n te positiewe verwagting oor ekonomiese groei te gee en was die werklike groei aansienlik laer as die aanname van groei wat in die begroting gegee is. In die onderstaande grafiek word die verloop van werklike groei gekontrasteer met die aannames van groei soos wat dit in die begrotings van 1999 tot 2004 gegee is. Waar daar in vroeëre jare aannames gegee is wat min of meer in lyn was met die werklike groei was aannames in latere jare te optimisties.
Vanaf die 2002 begroting is groei aannames getoon wat nie verband hou met die werklike verloop van die ekonomie. Die groei van 2.9% wat vir vanjaar verwag word is nie heeltemal uit lyn uit met die verwagtinge van private sektor ekonome nie, maar die groei van 3.6% vir volgende jaar en 4% in 2006 is te optimisties. Van belang vir die rand is die verswakking in die lopende rekening van die betalingsbalans van ‘n verwagte tekort van 0.8% in 2003 tot 1.3% in 2004. Hierdie verswakking is gering en sou dit realiseer behoort dit maklik gefinansier te kan word. Die risiko is egter dat die tekort aansienlik groter kan wees en dan kan dit problematies wees om die tekort te kan finansier. Die realisering van ekonomiese groei wat swakker is as wat in die begroting aangeneem word kan ook later buitelandse beleggers sentiment negatief raak omdat dit lyk asof die ekonomie in ‘n lae groei lokval vasgevang is. Hierdie situasie herinner aan die situasie in Meksiko in die negentigerjare toe Meksiko net soos Suid-Afrika makro-ekonomiese stabilisasie teweeggebring het. Toe groei nie versnel nie het buitelandse beleggers wat negatief geraak het oor Meksiko hul geld onttrek en was dit een van die faktore gelei het tot die Meksikaanse krisis. Die implikasie van gerealiseerde groei wat swakker is as wat verwag is, is dat die begrotingstekorte groter is as wat verwag is. In die grafiek hieronder word die verwagte asook die gerealiseerde begrotingstekorte getoon.
Die werklike begrotingstekorte is groter as wat verwag is omdat werklike ekonomiese groei laer is as wat die verwagting was. Waar daar met die 2002 begroting ‘n tekort van net oor 1.5% van die BBP verwag is vir die volgende fiskale jaar (jaar 2005) is dit met vanjaar se begroting aangepas tot 3.1%. Die groter begrotingstekort volg op die feit dat gerealiseerde ekonomiese groei aansienlik laer was as die groei wat verwag is. Die groter begrotingstekorte is dus siklies van aard en het te make met die stabiliseringsrol van fiskale beleid wat in tye van ‘n afswaai neig om groter te word om die impak van die afswaai te versag. Wat egter nie heeltemal duidelik is nie, is dat die verwagte tekorte vir die 2006 en 2007 fiskale jare nie terugkeer tot die tekorte van 2002 tot 2004 wat daarop dui dat die staat moontlik ‘n meer strukturele ekspansionistiese fiskale beleid in die toekoms gaan volg om ekonomiese groei te bevorder. Sou groei in die later jare realiseer soos wat verwag word, behoort die begrotingstekorte kleiner te wees. C: DIE IMPAK VAN DIE BEGROTING Die vraag wat met enige staatsbegroting gevra moet word is of die begroting gaan bydra om die ekonomie te stimuleer en of dit ekonomiese aktiwiteit aan bande gaan lê. Besteding in die ekonomie is verlede jaar aansienlik gestimuleer deur die verlagings in rentekoerse en die verstewiging in die rand en ‘n fiskale stimulus kon net bestedinggroei verder aangewakker het by vlakke wat onvolhoubaar is. Die begroting dra baie gering by tot bestedingsgroei. In die tabel hieronder word die belastingvoorstelle van die begroting in konteks geplaas.
Die netto impak van die belastingverligtings is R2.3 miljard, wat ongeveer 0.2% van die BBP beloop wat baie klein is en wat ‘n baie geringe impak op die ekonomie het. Omdat die verlaging in persoonlike inkomste belasting alreeds vir ‘n geruime tyd plaasvind is daar ‘n sterk kans dat die belastingverlagings as permanent gesien kan word wat moontlik daarop kan dui dat ‘n groter gedeelte van die belastingvermindering gespaar kan word. Herverdeling van inkomste wat in die begroting plaasvind bevoordeel egter verbruik eerder as investering. Soos in vorige jare word die begroting gebruik as ‘n instrument om inkome in die land te herverdeel en word 60% van die totale verligting gegee aan persone wat R150 000 of minder per jaar verdien. Die herverdeling van inkomste na laer inkomste-groepe wat ‘n hoër verbruiksgeneigdheid het as hoër inkomste-groepe plaas die alreeds lae persoonlike besparingskoers onder nog verdere afwaartse druk. Dit kan dus verwag word dat die grootste gedeelte van die verligting gespandeer sal word op verbruiksgoedere in plaas van investeringsgoedere en alhoewel dit die ekonomie vir vanjaar sneller kan laat groei is dit ten koste van meer volhoubare langtermyn ekonomiese groei. Die impak is egter gering. Die matig stimulerende begroting behoort die rand onder effense opwaartse druk te hou. Dit mag ook die SARB oorreed om wanneer die Monetêre Beleidskomitee (MBK) op 26 en 27 Februarie vergader om rentekoerse onveranderd te laat. ‘n Verlaging van rentekoerse deur die MBK mag dalk te veel stimulasie tot gevolg hê wat die finansiering van die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans teen die einde van die jaar moeilik kan maak met gevolglike afwaartse druk op die rand. D: SLOTOPMERKINGS Die begroting is matig stimulerend en mag dalk net die MBK oorreed om nie rentekoerse te verlaag by sy vergadering op die 26ste en 27ste Februarie. Inflasie word verwag om binne die teikenbande te bly wat ook maak vir ‘n meer egalige rentekoersbeleid. Die toenemende gebruik van die begroting om herverdeling van inkome te bewerkstellig moedig verbruik bo investering aan en kompromitteer langtermyn ekonomiese groei vir korttermyn stimulasie. Die herverdeling van inkomste vind makliker plaas in ‘n omgewing van snelle ekonomiese groei en die begroting moet nie hiervoor gebruik word. Die impak op die rand is moontlik effens positief oor die korttermyn, maar negatief oor die langtermyn wanneer dit moeilik word om die groter lopende rekening tekorte wat volg op die stimulasie te finansier. Dit blyk uit die syfers altans of daar ‘n skuif is na groter begrotingstekorte om groei te stimuleer en dat fiskale beleid in die toekoms dalk tot ‘n nog groter skaal aktivisties sal word. Opgedateer 19 Februarie 2004 |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Omtrent | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Weeklikse Kommentaar | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Konsensus Vooruitskattings | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Koopkragpariteit | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Studies | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Rekenaar | |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|